Discussion&Debates
Would you like to react to this message? Create an account in a few clicks or log in to continue.

7 Reguit Antwoorde

Go down

7 Reguit Antwoorde Empty 7 Reguit Antwoorde

Post  Cpt Kaos Thu Feb 04, 2010 1:21 am

Reguit antwoorde op Amie van Wyk se sewe vrae


Beste Amie

Dankie vir jou brief wat my uitnooi tot gesprek ( Beeld 5 Julie). Ek het geen sarkasme, snedigheid en persoonlike aanvalle daarin raakgelees nie daarom aanvaar ek die uitnodiging. Net soos wat die predikant-ding in Sunette Pienaar se bloed sit, so sit die teologie-ding in my bloed. Die dag wanneer ek my rug op God en Jesus van Nasaret keer, is dit klaar met my.

Voordat ek egter jou vrae kan beantwoord, moet ek verduidelik vanuit watter hoek ek die saak beredeneer. Ek het die afgelope dertig jaar die Bybelwetenskappe intensief bestudeer. Saam met vele ander het ek tot die besef gekom dat die Ou en die Nuwe Testament nié die Christelike geloof is nié. Anders gestel — dit wat as die Christelike geloof verkondig word, staan nie in dáárdie woorde in die Bybel nie. Dit berus op die interpretasies van die Griekse en Latynse kerkvaders (2de tot 5de eeu). Dit verteenwoordig húlle interpretasies van bepaalde Bybeltekste. Dit is húlle teologie vir hulle kultuur en wêreld. Daardie interpretasies het ongelukkig neerslag gevind in belydenisse. Baie Christene beskou hierdie belydenisse as ewige waarhede en dwing dit op ander af. Na regte is dit slegs voorlopige verwoordings van die Christelike geloof.

Aan hierdie belydenisse gaan 'n meesterverhaal vooraf wat drie hoofpunte het: (1) skepping en sondeval, (2) genade en verlossing, (3) wederkoms en eindoordeel. Hierdie meesterverhaal staan ook nie só in die Bybel nie. Jy moet dit in die Bybel inléés om dit daar te vind. Neem die erfsondeleer as voorbeeld. Nie een van die evangelies struktureer hulle verhaal oor Jesus rondom dié leer nie. Jesus verkondig nêrens dat God wraak gaan neem as hy nie aan 'n kruis sterf nie. Hy verkondig nêrens dat hy gestuur is om die sondeval ongedaan te maak nie. Nóg Genesis 2–3, nóg Psalm 51:7, nóg Romeine 5:12 wat tradisioneel as bewystekste vir die erfsondeleer geld, kan meer as basis vir hierdie leerstuk dien nie. Géén gerekende Bybelwetenskaplike vind die erfsondeleer in die Bybel nie. Daar is vele dogmatici wat dit ook erken. Sonder die erfsondeleer, maak die meesterverhaal — of dan die teologie van die kerkvaders — nie meer sin nie. As ons nie 'n sondige natuur erf nie, waarvan moet ons verlos word? As daar nie 'n perfekte wêreld was wat vanweë die sondeval in duie gestort het nie, kan Jesus se kruisdood en opstanding nie geïnterpreteer word as sou dit die begin van die herstel wees nie. Volgens die totale Bybel is God van ewigheid af 'n God wat vergewe. Nêrens word geskryf dat Hy eers 'n perfekte mensoffer eis voordat Hy daarmee kan voortgaan nie.

Ek stel dit onomwonde dat ek nie meer aanvaar dat mense in sonde ontvang en gebore word nie. Ek aanvaar ook nie meer die siening van die kerkvaders wat van oordeel was dat God se geregtigheid 'n perfekte mensoffer eis nie. Hierdie kerkvaders én Anselmus het in hulle teologie die paaslam (Eks. 12) en die sondebokoffer (Lev. 16) met mekaar verwar. Boonop het hulle onbybelse idees dat God woedend is en wraak wil neem omdat sy eer aangetas is, in Bybeltekste ingelees. In húlle teologie word Jesus se kruisdood foutiewelik as 'n plaasvervangende soenoffer voorgehou. Jesus self heg nie dié soort betekenis aan sy kruisdood wanneer hy daaroor praat nie. Lees gerus Markus 8:31; 9:31 en 10:32–34.

Wanneer ek breek met die meesterverhaal van die ortodokse Christelike geloof beteken dit bloot dat ek nie meer die teologie van die kerkvaders onderskryf nie. Ek ontken geensins die bestaan van God of Jesus nie. Ek ontken ook nie Jesus en vele ander profete voor hom se boodskap dat God wil hê dat mense reg en geregtigheid moet beoefen nie. Ek ontken ook nie dat mense verkeerd kan kies en ander kwaad kan aandoen en dit ook dikwels doen nie. Ek neem wel standpunt in teen die siening dat Christene op aarde geplaas is om die teologie van die kerkvaders op ander af te dwing. Ek neem ook standpunt in teen die siening dat indien Christene dit nié doen nié, daardie mense vir ewig verlore is en eendag na hulle dood hulle oë in die hel gaan oopmaak. Ek het gebreek met die drieverdieping heelal van die antieke wêreld. Hemel en hel is nie meer vir my aanwysbare en bewoonbare plekke nie.

Die ontsluiting van die ou Nabye Oosterse kulture; die wetenskaplike studie van die Bybel; die ontdekking en bestudering van die Dooie Seerolle en die Nag Hammadi-tekste; die herontdekking van die Joodsheid van Jesus en sy tuiswees in die vroeë Judaïsme, asook die besef dat alle teologie mensewerk is, stel teoloë en predikante voor die vraag na die relevansie van hulle sienings en die boodskap wat hulle verkondig. Vele Christene kan nie meer met die interpretasies van die kerkvaders identifiseer nie. Dit maak nie meer vir hulle sin nie omdat hulle nie in die vierde-eeuse Mediterreense wêreld leef nie. Hulle weet dat daar nie 'n historiese Adam en Eva was nie. Hulle weet dat hulle nie van verhaalkarakters 'n sondige natuur kan erf nie. Hulle weet ook dat daar nie 'n perfekte wêreld was wat as gevolg van daardie karakters se ongehoorsaamheid in duie gestort het nie. Ons wat van beter weet, staan onder die verpligting om die boodskap van Jesus van Nasaret ter herkontekstualiseer en dit só te verwoord dat dit vir mense van die derde millennium sin maak.

Op grond van bostaande uiteensetting antwoord ek soos volg op jou sewe vrae aan my.

(1) Die Bybel (in sy vele variasies) is sowel 'n normatiewe as informatiewe teks vir Christene, maar nie vir die ganse mensdom nie. Dit bevat nie 'n unieke verlossingsboodskap nie. Ons sterf nie omdat 'n Adam en Eva vir God die harnas ingejaag het nie. Ons sterf omdat dit die natuurlike einde van lewe is. Dis hoe lewe op hierdie planeet bly voortbestaan. Ons mensspesie is nie van hierdie sikliese gang uitgesluit nie. Buitendien, gaan net homo sapiens opstaan of het homo erectus en homo neandertalensis ook 'n kans? Die ortodokse Christendom se beheptheid met die mens se verlossing en heil maak dat hulle mense se verweefdheid met alles wat op aarde leef en geleef het, ignoreer. Hulle doen lustig mee aan die vernietiging van die planeet, want hulle gaan mos 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde erf!

(2) Christene hoef nie net teïsties (persoonsmatig) oor God te dink nie, maar kan ook panteïsties en panenteïstiese (nie-persoonsmatig) oor God dink en praat. Binne 'n panenteïstiese verstaan, kan gebed ander vorme aanneem as die direkte aanspreek van God as 'n persoon. Stilte, meditasie, verwondering en gewyde musiek is ook vorme van gebed.

(3) Jesus van Nasaret was 'n Joodse profeet en wysheidsleermeester. Die kerkvaders het hom in hulle teologie 'n verlossergod en 'n middelaar tussen God en mense gemaak. Ek glo wel dat die goddelike in Jesus van Nasaret teenwoordig was, maar nie dat Jesus die geïnkarneerde ewige Seun van God was/is nie.

(4) Die herverskyningsverhale in die Evangelies en Handelinge hou verband met dáárdie mense se leef- en ervaringswêreld. Om hulle verhale binne 'n moderne denkraamwerk te wil verstaan en van mense wat tans leef, te verwag om te glo dat lyke lewendig kan word, is om kultuurverskille en verstaansmodelle te ignoreer. Wat ons sien en ervaar, hou verband met wat ons kultuur, wêreldbeeld en verstaansmodelle ons toelaat om te sien en te ervaar.

(5) Christene kan steeds aan ander mense die verhale van Jesus vertel, maar moet dit doen met die wete dat dit verhale is wat in die antieke wêreld met sy verskillende kulture ontstaan het. Daardie verhale is nie gelyk te stel aan die meesterverhaal van die ortodokse Christendom nie. Jesus het nie van sy volgelinge verwag om die ekumeniese belydenisse op ander mense af te dwing nie, maar om reg en geregtigheid te beoefen.

(6) Om die kerkvaders se teologie as ewige waarheid aan ander mense voor te hou, ignoreer die feit dat ons in die postmoderne tyd van gekontekstualiseerde waarheid praat. Afrika Christene maak iets anders met Jesus in hulle kultuur — en dis reg so. Europeërs en Euro-Afrikane mag ook hieraan meedoen en iets anders met Jesus maak. Dit wat hulle met Jesus maak, behoort egter verband te hou met die kennis waaroor hulle beskik en met die kultuur waarin hulle leef. Alle identifiserings met Jesus van Nasaret en verwoordings van die Christelike geloof is slegs voorlopige verwoordings. Niemand kan ewige geloofswaarhede formuleer nie.

(7) Die kontinuïteit met die Christelike tradisie bestaan daarin dat jy as Christen toelaat dat die verhale oor Jesus deel word van jou lewensverhaal sodat ander mense in jou doen en late iets van sý boodskap sien vibreer en hoor resoneer.

Groete

Sakkie Spangenberg

Skool vir Religie en Teologie

Unisa
Cpt Kaos
Cpt Kaos

Posts : 40
Join date : 2010-01-29

Back to top Go down

Back to top

- Similar topics

 
Permissions in this forum:
You cannot reply to topics in this forum